finansiële adviseurs | saam met jou: end-uit

 
 
 
 

Inleiding

Ons oorhoofse beleggingstrategie is om kliënte se fondse slegs in beleggings te plaas wat streng deur die Raad op Finansiële Dienste (‘RFD’), Vereniging van Spaar en Beleggings Suid-Afrika (‘ASISA’), Kollektiewe Beleggingskemas Kontrolewet (‘CISCA’), Suid-Afrikaanse Reserwebank (‘SARB’) en Suid-Afrikaanse Inkomstediens (‘SARS’) gereguleer word.

Dit gee vir ons en ons kliënte meer gemoedsrus as met beleggings wat nie so streng gereguleer word nie, onder andere eiendomsindikasies.

Redes hoekom ons effektetrusts as beleggingsvoertuie gebruik

  1. Verslagdoening van prestasie:
    Die CISCA het verskeie vlakke van openbaarmaking in verslagdoening, insluitende die wetlike verpligting vir bestuursmaatskappye om prestasie statistieke en details van onderliggende bates op ‘n kwartaallikse basis aan die publiek beskikbaar te maak.
  2. Deursigtigheid:
    Effektetrusts is meer deursigtig as ander beleggingsvoertuie (bv uitkeerpolisse) en die vlak van openbaarmaking vereis van fondsbestuurders het toegeneem met die promulgasie van die CISCA. Fondsbestuurders moet alle kostes wat gehef word, wanneer dit gehef gaan word, presies hoe deelnemende belange teruggekoop word, besonderhede van die historiese opbrengste en besonderhede van enige winste wat gedurende die vorige finansiële jaar verklaar is gereeld aan die publiek openbaar.
  3. Toeganklikheid:
    Beleggers kan óf ‘n enkelbedrag belê of gereeld bydra via debietorders. Minimum enkelbedrae wissel van R5,000 tot R20,000 en minimum debietorders begin op R200 per maand.
  4. Belasting-doeltreffendheid:
    Inkomste (rente en dividende) en kapitaalwinste op effektetrusts word belas in die hande van die individuele belegger, nie die effektetrust self nie. Effektetrust maatskappye verskaf jaarliks state aan beleggers wat alle transaksies vir belastingdoeleindes reflekteer, en dit verminder die las op individue om self hierdie berekeninge te doen.
  5. Professionele bestuur:
    Beleggers in effektetrusts dra die taak van portefeulje bestuur aan professionele fondsbestuurders oor in ruil vir batebestuursfooie. Jaarlikse fooie is gewoonlik minder vir inkomste en indeks fondse as vir aandeelfondse en multibestuurder fondse is gewoonlik die duurste.
  6. Kompeterende kostestrukture:
    Die aanvanklike fooie en bestuurskoste fooie moet ten volle openbaar word, en beleggers kan sodoende fondsbestuurders wat uitermate hoë fooie hef uitskakel.
  7. Gemak en likiditeit:
    Effektetrusts is maklik verhandelbaar. Debietorders kan gekanselleer word, verhoog en verlaag word sonder enige penalisasies, anders as sommige versekering spraaprodukte. Beleggers kan binne enkele dae hulle bate-blootstelling veranders soos hulle persoonlike omstandighede verander – byvoorbeeld van aandeel-gebaseerde beleggings tot vasterente instrumente beleggings.

Fondsbestuurders word ook verplig om deelnemende belange op aanvraag terug te koop, en dit maak effektetrusts baie likied. Hierdie buigsaamheid en gemak van transaksies kan egter veroorsaak dat beleggers emosioneel optree in wisselvallige marktoestande: deur te verkoop wanneer markte val en deur te koop wanneer markte nuwe hoogtepunte bereik. Dus, terwyl gemak as ‘n voordeel van effektetrust gesien behoort te word, vereis dit dat beleggers meer ingelig en gedissiplineerd in hulle beleggingsbenadering moet wees.

Belangrike kennisgewing oor effektetrusts

Effektetrusts moet as medium- na langtermyn beleggings beskou word.

Die waarde van die deelnemende belang (“eenhede”) mag moontlik toeneem of afneem en historiese prestasie is nie noodwendig ‘n aanduiding van toekomstige opbrengste nie.

Effektetrusts word verhandel teen heersende pryse en bestuursmaatskappye kan betrokke raak by “scrip” lenings en lenings. Verskillende klasse van eenhede mag toepaslik wees op hierdie portefeuljes en is onderhewig aan verskillende fooie en kostes.

Effektetrust pryse word bereken op ‘n netto batewaarde grondslag wat die totale waarde van al die bates in die portefeulje is (insluitende enige opgelope inkomste) en minus enige toelaatbare aftrekkings (makelaarsfooie, belasting, BTW, ouditeursfooie, bankkostes, trustee- en bewaringskostes, prestasiefooie en jaarlikse bestuursfooie) van die portefeulje gedeel deur die aantal eenhede in bestaan. “Forward pricing” word gebruik.

Beleggingsrisikos

Individue belê fondse om ‘n opbrengs daarop te verkry, maar hulle kry telkemale minder as wat hulle verwag het. Beleggingsrisiko word breedweg gedefinieer as die kans dat u minder sal ontvang as wat u verwag het vanaf ‘n belegging, of dat die kapitaalwaarde wesenlik minder sal wees as u aanvanklike kapitaalwaarde.

Beleggers verskil in terme van hulle risiko-aptyt, dit is die risiko wat ‘n belegger bereid is om te neem of gemaklik is met die hoop om hoër opbrengste te kry. Beleggers wat risiko-vermydend is wil nie te veel of enige risikos neem nie en sal hulle geld in ‘n geldmarkfonds of vaste deposito by ‘n bank belê. In ruil vir hierdie lae of geen risiko sal hulle ook ‘n baie klein opbrengs verkry.

Aan die ander kant van die spektrum is daar beleggings, soos opsies, waar risiko-soekende beleggers verskeie kere hulle oorspronklike belegging kan verdubbel binne ‘n kort tydperk. Of hulle kan die hele kapitaalwaarde (en selfs meer) verloor.

‘n Risiko-afwysige belegger sien slegs die verwagte opbrengs raak sonder enige oorweging vir die risiko wat met die belegging gepaardgaan.

Tipes beleggingsrisikos

  1. Sistematiese risiko:
    Word veroorsaak deur verskillende faktore, of wat verskillende beleggings op verskillende maniere beinvloed.
  2. Nie-sistematiese risiko:
    Risikos wat slegs ‘n sekere gedeelte van die ekonomie beinvloed of risikos wat spesifiek tot ‘n tipe besigheid of bate is. Hierdie risikos kan verminder word deur diversifikasie.
  3. Inflasie risiko:
    Sistematiese risiko wat reële opbrengste verminder as gevolg van die afnemende koopkrag van die opbrengste. Alhoewel inflasie die meeste beleggingsopbrengste negatief beinvloed, kan wisselkoers inflasie hoër opbrengste tot gevolg hê, soos wanneer dit kort verkoop word in ‘n valuta-transaksie.
  4. Rentekoers risiko:
    Risiko wat opbrengste verminder vanweë veranderinge in die rentekoers omgewing. Rentekoers risiko kan verskillende beleggings op verskillende maniere beinvloed. Die prys van staatseffekte in die sekondêre mark verander omgekeerd tot rentekoerse, wanneer rentekoerse styg daal die prys van staatseffekte, en andersom.
  5. Besigheidsrisiko:
    Risiko wat ‘n maatskappy se netto bates of netto inkomste kan verminder, wat gevolglik die opbrengs op enige sekuriteit wat daarop gebaseer is, kan verminder. Sommige besigheidsrisikos is sektor risikos wat elke maatskappy in ‘n spesifieke sektor kan beinvloed, terwyl sommige besigheidsrisikos slegs ‘n spesifieke maatskappy beinvloed.
  6. Finansiële risiko:
    Risiko dat ‘n besigheid nie skuldeisers kan betaal nie weens ‘n hoë skuldlas. Rente en kapitaal moet dan betaal word op geleende geld en versuim om dit te betaal kan veroorsaak dat die besigheid bankrot verklaar word.
  7. Belasting risiko:
    Risiko dat ‘n belasting owerheid belastingwetgewing sal verander wat die belegging nadelig sal beinvloed. Hoër belasting op beleggingsinkomste verminder reële opbrengste en kan gevolglik die pryse van beleggings in die sekondêre markte verminder.
  8. Mark risiko:
    Risiko dat marktoestande beleggingsopbrengste negatief kan beinvloed. Byvoorbeeld, die pryse van sekuriteite is afhanklik van algemene aanbod en vraag wat wissel onafhanklik van enige spesifieke sekuriteit. Mark risiko is gewoonlik afhanklik van ekonomiese toestande soos inflasie, verbuiker sentiment of die beskikbaarheid van krediet.
    Alhoewel mark risiko die meeste beleggings beinvloed word sommige beleggings meer beinvloed as ander. Hoeveel ‘n belegging beinvloed word deur mark risiko word gemeet deur prys volatiliteit, veral in verhouding tot ‘n indeks van soortgelyke beleggings. Byvoorbeeld, sommige sekuriteite styg meer wanneer die market styg, of val laer wanneer die markte terugsak. Somtyds kan ‘n belegging anti-siklies wees tot ander soortgelyke finansiële instrumente. Gevolglik styg hierdie tipe beleggings wanneer die algemene mark val, en andersom ook.
  9. Gebeurtenis risiko:
    Risiko van ‘n gebeurtenis wat ‘n impak kan hê op die potensiële opbrengs van ‘n belegging. Gewoonlik is gebeurtenis risiko die risiko wat ‘n enkele maatskappy en sy sekuriteite beinvloed, soos die verloor van ‘n regsgeding of ‘n rekeningkundige skandaal. Somtyds kan gebeurtenis risiko ‘n paar sekuriteite beinvloed, soos die politieke risiko dat ‘n land iets sal doen wat die pryse van sekuriteite van maatskappye daar af sal dryf, soos verhoogde belastings, ontmoediging van buitelandse beleggings, of in ekstreme gevalle, die nasionalisering van maatskappye sonder behoorlike vergoeding.
  10. Likiditeitsrisiko:
    Risiko dat ‘n belegging nie vining verkoop kan word vir ‘n redelike prys nie. Eiendom, byvoorbeeld, is ‘n nie-likiede belegging want dit vat ‘n geruime tyd om te verkoop tensy dit vir minder as markwaarde verkoop word.

Hierdie is die algemeenste risikos wat feitlik elke belegging beinvloed. Daar is egter ander risikos ook wat spesifieke beleggings beinvloed. Ons poog om deur middel van diversifikasie die meerderheid van bostaande risikos tot ‘n aanvaarbare vlak te verminder, alhoewel dit nie altyd beheerbaar is nie.

Bepaling van individuele risiko-profiele

Ons neem die volgende veranderlikes in ag om ons kliënte se individuele risiko-profiele te bepaal:

  1. Beleggingstermyn: 
    Byvoorbeeld, 0-3 jaar, 3-5 jaar, 5-10 jaar en 10 jaar plus. Hoe langer die termyn van die belegging, hoe meer aandele-blootstelling kan bekostig word.
  2. Beleggingsoogmerk- of doelwit (hoeveel moet kapitaalgroei inflasie uitpresteer?):
    Byvoorbeeld, om inflasie met 2% uit te presteer word ‘n minimum termyn van 3 jaar aanbeveel, om dit met 4% uit te presteer word ‘n minimum termyn van 5 jaar aanbeveel en om dit met 6% uit te presteer word ‘n minimum termyn van 7 jaar aanbeveel.
  3. Riglyne ten opsigte van risiko en potensiële verliese wat gely kan word:
    Byvoorbeeld, om inflasie met 2% uit te presteer kan die potensiële kapitaalverlies oor 1 jaar 0%-2% beloop, om inflasie met 4% uit te presteer kan die potensiële kapitaalverlies oor 1 jaar 7% beloop en om inflasie met 6% uit te presteer kan die kapitaalverlies oor 1 jaar 15% beloop.
  4. Die maksimum blootstelling aan spesifieke bateklasse:
    As u nie oormatige blootstelling tot aandele of eiendom wil hê nie kan u dit aandui en dan neem ons dit in ag met die sametstelling van u portefeulje..
  5. Enige spesifieke voorkeure wat u moontlik mag hê ten opsigte van u beleggings:
    Binnelands versus buitelands, eiendom versus effekte versus kontant versus aandele, ensovoorts.

Op grond van die resultate van hierdie risiko-profiel sal ons fondse identifiseer wat geskik behoort te wees vir kliënte se beleggings. Let net wel dat die termyne en persentasies wat hierbo gemeld is baie subjektief is en dat die portefeulje-samestelling nog deur twee ander prosesse moet gaan voor dit gefinaliseer word, naamlik die PlexCrown beoordelingsmodel, die Moonstone Information Refinery, die Glacier Risk Assessor en Regulasie 28 van die Pensioenfondswet van 1956.

PlexCrown beoordelingsmodel

Ingevolge die “PlexCrown beoordelingsmodel word effektetrusts volgens verskillende kriteria beoordeel en daar word ’n aantal sterre aan ’n spesifieke fonds toegeken (beste telling van 5 sterre en swakste telling van 0 sterre). Dit stel beleggers in staat om te weet hoe ’n spesifieke fonds oor ’n tydperk presteer het in vergelyking met ander fondse in sy sub-kategorie op ’n “risiko-aangepaste opbrengs” basis, asook met inagname van die fondsbestuurder se vermoëns.

Die PlexCrown beoordelingsmodel is onafhanklik en heeltemal objektief omdat hulle op kwantitatiewe maatstawwe gegrond is. ’n Fondsbestuurder se reputasie, ondervinding, beleggingsprosesse en strategieë en risikos (mark of spesifiek) word alles saamgevoeg in die opbrengs per eenheid risiko.

Die PlexCrown beoordelingsmodel is ‘n maatstaf van konstante prestasie omdat beoordelings gedoen word oor ‘n reeks periodes van tot vyf jaar en daarvolgens geweeg word. Hierdie beoordelings word op ‘n maandelikse grondslag opgedateer en dit bied aan beleggers, finansiële beplanners en finansiële verslaggewers die nuutste inligting oor hoe fondse presteer.

Moonstone Information Refinery

Die PlexCrown model beoordeel nie geldmarkfondse nie omdat geldmarkfondse se mandate baie streng is ten opsigte van die instrumente wat hulle mag hou. Die rentekoerse van die verskillende geldmarkfondse behoort nie wesenlik te verskil nie omdat dit ook in ’n groot mate aan die Reserwebank se repokoers gekoppel is.

Moonstone Information Refinery publiseer egter weekliks die rentekoerse van dertien top geldmarkfondse wat vir belegging beskikbaar is, en ons kies dan die geldmarkfondse volgens hierdie ranglys.

Glacier Risk Assessor

Nadat ons aanvanklik fondse vanaf die PlexCrown beoordelingsmodel en Moonstone Information Refinery geidentifiseer het inkorporeer ons dit in ’n risiko-model wat deur Sanlam Glacier se beleggingsanaliste saamgestel word ook om ’n portefeulje se algehele relatiewe risiko-basis te bepaal.

Die Glacier Risk Assessor word kwartaalliks opdateer met nuwe inligting. ’n Risikotelling van tussen 0 en 10 word toegeken aan elke fonds in ’n portefeulje-samestelling en illustreer die vlak van risiko wat elke fonds inherent verteenwoordig. Die Glacier RA oorweeg dus hoe fondse met mekaar korrelleer om die portefeulje se algehele risikotelling te bepaal.

Die tabel hieronder dui die risikovlak van elke risikotelling aan deur die Glacier RA bereken:

Konserwatief

Versigtig

Gematig

Gematig aggressief

Aggressief

0-2

2-4

4-6

6-8

8-10

Wanneer die risikotelling vir elke fonds bereken word word die volgende veranderlikes in ag geneem vir 1 jaar, 3 jaar en 5 jaar tydperke, soos toepaslik:

  1. Afwaartse wisselvalligheid:
    Gemeet deur afwaartse afwyking; dit bereken die afwyking van die fonds se opbrengs bo die risiko-vrye opbrengskoers in die mark.
  2. Wisselvallige opbrengste:
    Gemeet deur die jaarlikse standaardafwyking; dit bereken die afwyking van ’n fonds se opbrengs rondom sy gemiddelde opbrengs.
  3. Baterisiko van die fonds:
    Gemeet deur ’n klassifikasie van 1 tot 10 bereken vir elke kollektiewe belegging sektor; dit bepaal die onderliggende risiko geassosieer met beleggings in ander sektore.

Op grond van die resultate van die PlexCrown beoordelings, Moonstone Information Refinery en Sanlam Glacier Risk Assessor stel ons dan ’n portefeulje vir ’n kliënt saam op grond van sy/haar risikoprofiel.

Regulasie 28 van die Pensioenfondswet van 1956

Tot op hede was Regulasie 28 van die Pensioenfondswet slegs van toepassing op pensioenfondse, voorsorgfondse, uittree-annuiteite en bewaringsfondse (‘aftreefondse’) in hul geheel, wat gelei het daartoe dat sommige lede te veel blootstelling aan sekere bate-kategorieë gehad het, of geen blootstelling aan ander bate-kategorieë nie. Ingevolge die nuutste wysigings, word nakoming van Regulasie 28 nou op individuele beleggingsplanvlak vereis.

Die beperking op blootstelling van aftreefondse aan aandele is steeds 75% en die beperking op blootstelling aan eiendom is steeds 25%. Die beperking op blootstelling aan buitelandse bates is tans 25%, maar sal voortaan bepaal word, en mag gewysig word, deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Die gesamentlike blootstellingsperk van 90% ten opsigte van aandele en eiendom is nie meer van toepassing nie.

Let wet dat Regulasie 28 slegs van toepassing is op aftreefondse, en nie op diskresionêre effektetrusts ook nie. U kan steeds onbeperkte aandele-, eiendom- of buitelandse blootstelling in u effektetrust portefeulje hê.

Interne Opbrengskoers op Beleggings (‘IRR’)

‘n Belegging se IRR verteenwoordig die totale opbrengs (beide inkomste en kapitaalgroei) wat oor ‘n sekere tydperk daarop behaal is. Ons monitor gereeld die IRR op ons kliënte se beleggings.

Ten einde ‘n belegging se reële beleggingsprestasie oor ‘n tydperk te bepaal vergelyk ons sy IRR met die verklaarde Verbruikersprysindeks (‘VPI’) koers volgens Statistiek Suid-Afrika (www.statssa.gov.za) vir die ooreenstemmende tydperk.

Byvoorbeeld, ‘n belegging word op 1 Januarie 2004 geplaas. Sedert daardie datum is die IRR 9% per jaar en die gemiddelde VPI koers vir dieselfde tydperk 6% per jaar. Die belegging het dus inflasie gemiddeld met 3% per jaar uitpresteer, en dit verteenwoordig die reële opbrengs van die belegging.

Gevolgtrekking

Hierdie dokument verteenwoordig VRR se beleggingstrategie in geheel. Daar is egter verskeie ander faktore om in ag te neem met individuele beleggings en ons beveel aan dat u ons kontak as u ‘n volledige beleggingsontleding verlang.